Nóg vyf maklike maniere om jou onderneming van vaal na vars te neem.

Nóg vyf maklike maniere om jou onderneming van vaal na vars te neem. Is jy ’n entrepreneur of besit jy jou eie onderneming? Sit jy bloed, sweet en trane in jou onderneming, maar voel nie of jy iets bereik nie? Dalk is hierdie raad net wat jy nodig het. Dit is maklik en bekostigbaar. Neem […]
Foto: Unsplash
Foto: Unsplash

Nóg vyf maklike maniere om jou onderneming van vaal na vars te neem.

Is jy ’n entrepreneur of besit jy jou eie onderneming? Sit jy bloed, sweet en trane in jou onderneming, maar voel nie of jy iets bereik nie? Dalk is hierdie raad net wat jy nodig het. Dit is maklik en bekostigbaar.

  1. Neem hoë kwaliteit foto’s van jou vorige werk en sit dit op jou webwerf of Facebook. As jy meer aanlyn werk, sit skakels na van jou kliënte se webadresse. Die belangrikste is om te wys wat jy gedoen het. Mense hou van voorbeelde. Belê in ’n goeie kamera of ’n goeie selfoon, ten minste.
  2. Maak seker jou spelling is goed. Geen verskonings nie. Jou naaste boekwinkel het woordeboeke of ’n aanlyn een en as jou onderneming genoeg gegroei het, stel ’n taalpraktisyn aan – moenie afskeep nie. En loop maar eerder lig vir internettaaldienste.
  3. Behou jou aanlyn teenwoordigheid. Wanneer ek na ’n diens soek, is die eerste ding wat ek doen om dit te google. Dit is fantasties as ek jou vind op Facebook, maar as ek sien jou laaste inskrywing was Desember 2015, dan wonder ek:? Het ’n trok jou raakgery? Het iemand jou ontvoer? Het jou koekies te veel bakpoeier bevat? Maak dit deel van jou daaglikse roetine om ietsie op jou Facebook of webtuiste te plaas. Dit vat regtig nie baie tyd nie en selfs al vat dit ’n rukkie aan die begin, sal jy dit maak, want jou onderneming is jou lewe, brood en botter, jou passie – jy sal alles in jou vermoë doen om bo uit te kom.
  4. Doen navorsing. Kyk wat doen soortgelyke ondernemings. Wat werk, wat werk nie. As jy sukkel, raadpleeg ’n kenner. Die meeste van die tyd is dit vir iemand ’n pluimpie as jy hulle vra vir raad.
  5. Probeer om dinge eenvoudig te hou. Nie te veel blinkertjies nie, selfs al is jou onderneming in die blinkerbedryf. Behou die balans.